Mymeringe oor die Erekoning van Eden

“Ook het die HERE God ‘n tuin geplant in Eden, in die Ooste, en daar aan die mens wat Hy geformeer het, ‘n plek gegee” (Genesis 2:8).

Eden is waarskynlik nie wat meeste van ons dink dit is nie. ‘n Tuin in Eden beskou ‘n mens dalk as ‘n middelklas dorpstuin met beddings, bome en gras. Maar die Skrif getuig anders van Eden. Want wie het in sy verbeelding ‘n berg opgeroep as hy aan Eden daar in Genesis dink? Esegiël 28:13-16 is duidelik. Daar word die goddelose koning van Tirus met die Satan vergelyk – hy wat “...in Eden [was], die tuin van God (v.13); en wat op ‘n heilige berg gestel was (v.14), maar “weens die grootheid van [sy] koophandel is [sy] binneste met geweld gevul” en is daarom “as onheilige van die godeberg afgedrywe...” (v.16). Eden is ‘n berg. ‘n Berg vanwaar daar ‘n rivier vloei wat die tuin natmaak (Genesis 2:10).[1]

Dit is vanaf hierdie berg waar die eerste mense verdryf is weens die sondeval “en [waar] gérubs aan die oostekant van die tuin van Eden … woon, met die swaard wat vlam en flikker, om die toegang tot die boom van die lewe te bewaak” (Genesis 3:24). Toegang tot die lewende God – om met Hom te wandel en in Sy heerlike teenwoordigheid te wees – is afgesny. Dit is Ballingskap van die hoogste orde vir die eerste mense. Die res van die Skrif is ‘n getuienis van die een groot vraagstuk wat antwoord soek: hoe kom die mens terug in die tuin? Hoe kom die mens weer in die teenwoordigheid van die Heilige Een. Hoe kom ‘n mens weer op die Here se berg? Dit is die Exodus-vraagstuk. Vanuit die dood weer tot die lewe – maar hoe?

Met bogenoemde wat in die agtergrond afspeel, en met daardie vraagstuk in my kop maak Psalm 24 skielik vir my baie meer sin.

'n PSALM van Dawid.

Die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon; [2] want Hý het dit gegrond op die seë en dit vasgestel op die strome. [3] Wie mag klim op die berg van die Here? En wie mag staan in sy heilige plek? [4] Hy wat rein van hande en suiwer van hart is, wat sy siel nie ophef tot nietigheid en nie vals sweer nie. [5] Hy sal seën wegdra van die Here en geregtigheid van die God van sy heil. [6] Dit is die geslag van hulle wat na Hom vra, wat u aangesig soek — dit is Jakob. Sela.

[7] Hef op julle hoofde, o poorte, ja, verhef julle, ewige deure, dat die Erekoning kan ingaan! [8] Wie is tog die Erekoning? Die Here, sterk en geweldig, die Here geweldig in die stryd. [9] Hef op julle hoofde, o poorte, ja, hef op, ewige deure, dat die Erekoning kan ingaan! [10] Wie is dan tog die Erekoning? Die Here van die leërskare — Hy is die Erekoning! Sela.

Ek begryp die vrae van vers 3: Wie mag klim op die berg van die Here? En wie mag staan in sy heilige plek? Dis vrae wat aansluit by die groot Exodus-vraagstuk. Hoe kom ons weer terug in die tuin; hoe kom ons weer by die Here op die berg Eden uit? Die antwoorde in vers 4 is verdoemend (Eers positief gestel) Net die een wat rein van hande en suiwer van hart is... Dit sit in geen mens meer nie. Rein van hande? Nee, daar is bloed op ons s’n (Jesaja 59:3). Suiwer van hart? Nee, sê die Skrif nie dat my hart bedrieglik bo alle dinge is nie? In my dring u strafgerigte, Heer, soos skigte wat my hart deurboor soos staal... (Psalm 38:2 berymd).

En dan die negatiewe: “wat sy siel nie ophef tot nietigheid en nie vals sweer nie” Sprekend van die misdaad van die eerste mens. “Julle sal soos God wees” lieg die Satan en die mens verhef sy siel tot daardie leuen. Dis nietigheid; leeg en die dood. Daardie leuen heers steeds in ons harte. Vandaar die moeite en onuitspreeklike gruwels in hierdie lewe. Vandaar die tot-stof-keer van die nie-goddelike mens en vandaar die valse hoog en laag swering van die kinders van die vader van die leuen.

Wie mag die berg op? Geeneen van ons nie. Dis die dilemma van die mensdom. Maar ek hoor ‘n goeie tyding uit ‘n ver land – soos koue water op ‘n vermoeide en ontstelde siel. Ek hoor van die Christus wat die groot Exodus deur is; die dood heen – op droë grond... Ek hoor van Een met rein maar deurboorde hande; ek hoor van een wat ‘n suiwer, maar deursteekte hart het. Ek hoor van Jesus wat sy siel nie opgehef het tot nietigheid nie, maar tot die dinge wat daar bo is. En ek hoor van Jesus wat nie vals nie, maar in waarheid by homself sweer omdat Hy geen meerdere het nie.

Dit is ter wille van Hom wat daar beveel word: Hef op julle hoofde, o poorte, ja, verhef julle, ewige deure, dat die Erekoning kan ingaan! (v.7). Jesus is hierdie Erekoning. Laat die poorte van Eden oopgaan! Laat die gérubs opsy staan. Steek die flikkerende swaard in die skede terug – die Koning is hier! ‘n Mens sien dit daar by die kruis. Toe die Here Jesus aan die kruis met ‘n groot stem uitgeroep het en die gees gegee het, “[het] die voorhangsel van die tempel ... in twee geskeur, van bo tot onder ...” (Mattheus 27:50-51). Op die voorhangsel was daar gérubs borduur (2 Kronieke 3:14) – ‘n heenwysing na die gérubs voor die poorte van die tuin. Daar, by die aardskuddende kruisgebeure is die poorte opgehef. “Hef op julle hoofde, o poorte, ja, hef op, ewige deure, dat die Erekoning kan ingaan!” (v.9).

Die Here Jesus het ingegaan en vir ons die weg gebaan. “[14] Terwyl ons dan 'n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou … [16] Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.” (Hebreërs 4:16).

O, hoe heerlik is my Koning! Hoe dierbaar is my Here! “My hart ontroer deur mymering, sal lieflik van my Erekoning sing! My tong deur digvuur aangedryf, is soos ‘n pen wat vaardig skryf” (Psalm 45:1 berymd).

Ek loof U my Erekoning!

“[Ons] word met vreugde voorgelei;
en almal, in hul Koning bly,
mag intree – hoogste gunsbewys! –
in koninklike pragpaleis.”
[2]


[1] Daar is sprake (weliswaar vaag) van drie ‘terreine’ wat later deur die uitleg van die tabernakel en later die tempel simboliseer is: Die allerheiligste is bo-op die berg Eden; die heilige is die tuin van Eden en die voorportaal is die gebied buite die tuin.

[2] Psalm 45:14 berymd

Previous
Previous

Die Heldhaftigheid van die Christelike Lewe

Next
Next

Mymeringe oor die eerste paar woorde in Genesis