Die Heldhaftigheid van die Christelike Lewe

Selfverloëning, dapperheid, nederigheid en onselfsugtige liefde – als kenmerkende eienskappe van iemand wat ons as ‘n held sal beskryf. Die uitlewing van hierdie eienskappe word algemeen in die karakters van ons gunsteling verhale en rolprente geëer en gewaardeer. Maar is sulke heldhaftigheid slegs beperk tot fabels en verhale? Of is heroïsme net bereikbaar vir groot en legendariese persone wat hoofrolle in merkwaardige wêreldgebeure speel? Nee, die Christelike lewe is een van heldhaftigheid. En nou praat ek nie net van die lewens van helde soos Polikarpus, Athanasius, Jan Hus, Amy Carmichael of Richard Wurmbrand nie, maar juis spesifiek van die alledaagse lewens van gewone Christene. Gelowiges soos ek en jy wat bestem is tot betreklik beskeie lewens, maar wel lewens wat net soos dié van hierdie helde gekenmerk kan word deur werke van goud, silwer en kosbare stene (1 Kor. 3:12-14).

Krygers in oorlogstryd

Die lewens van Christene op aarde word (onder andere) soos dié van ‘n soldaat wat in ‘n oorglogstryd betrokke is beskryf. Saam met die menigte verwysings na wapenrusting waarmee die Christen hom moet toerus, is elkeen geroep om “’n goeie krygsman van Jesus Christus” te wees wat die “goeie stryd” stry (2 Tim. 2:3; 1 Tim 1:18). Hierdie stryd is nie een wat met fisiese wapens teen vleeslike vyande gevoer word nie [1], maar ‘n geestelike stryd teen die duisternis in die wêreld en in ons eie harte (2 Kor. 10:3-4; Efs. 6:11-12). Dit gaan daaroor om die sonde te vermy en die goeie te doen, en om die boosheid in die wêreld te bestry en met die goeie te verdring.

Daar is ook die idee in die Skrif dat ons die Koninkryk en die dinge van God met inspanning en ywer moet soek, en dat ons in ‘n stryd betrokke sal wees om dit te kry. Paulus skryf in 1 Kor. 9, “Weet julle nie dat die wat op die baan hardloop, wel almal hardloop, maar dat een die prys ontvang nie? Hardloop só dat julle dit sekerlik kan behaal...ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar”. In Hand. 14 vermaan Paulus en Barnábas, “Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan”. Ja, ons strewe en vermoë kom slegs deur die werking van die Heilige Gees in ons harte, maar net so werklik as wat die Heilige Gees dit bewerk, is dit net so werklik die mens wat homself inspan tot die taak (die kenmerkende, onderskeibare-onskeibare “beide...en” van die Christelike geloof, bv. Christus is beide God en mens; die brief aan die Romeine is deur beide die Heilige Gees en Paulus geskryf; God is werklik soewerein en die mens is werklik verantwoordelik).

Geroep om te sterwe

Seker die dapperste en mees onselfsugtige ding wat iemand kan doen is om sy lewe ter wille van ander neer te lê. Daar is nie iets eerbaarder of ‘n daad meer verhewe as dit nie, en die dissipels van Jesus Christus word hiertoe beveel (Matt. 16:24). Dit sluit verseker die gewilligheid om fisiese dood vir God te sterwe in (Op. 2:10), maar ook (en meer algemeen) die daaglikse afsterwe van die sondige-self en verloëning van jou eiewilligheid (Rom. 6:11). Dietrich Bonhoeffer het dit treffend gestel, "When Christ calls a man, He bids him come and die”.

Met die oog op die lewenstryd en ons daaglikse afsterwe word ons geroep om dapper te wees – vas in die geloof, manhaftig en sterk (1 Kor. 16:13) – en om God bo alle mense en magte te vrees (Luk. 12:4-5).

Verhewe nederigheid

In die moderne wêreld is nederigheid ‘n eienskap wat selde met helde geassosieer word. Deesdae is dit ‘n onwenslike eienskap, want mens moet mos “pride” hê en aan almal bekend maak hoe trots jy is oor wie of wat jy is. Maar dink bietjie aan die persone wat jy die meeste bewonder. Hulle is gewoonlik diensbaar, stel ander voor hulself, gee eer aan ander waar dit hul toekom en blaas nie hul eie beuel nie. Die bekende komponis en pianis Sergei Rachmaninoff het later in sy lewe oor sy eenmalige ontmoeting met die befaamde komponis Tchaikovsky oor hom gesê, “He was humble, as all great men are”.

Dit is welbekend dat die Skrif die Christen vermaan om nederig te wees. Ons Here Jesus het nederigheid met grootheid in die Koninkryk verbind toe die dissipels vir Hom vra wie die grootste in die Koninkryk is. Daarop het Hy geantwoord, “Elkeen dan wat homself verneder soos hierdie kindjie, hy is die grootste in die koninkryk van die hemele” (Matt. 18:4). Net so toe die moeder van Johannes en Jakobus vra dat haar seuns die grootste in die Koninkryk sal wees het Jesus aangaande grootheid gesê, “elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees. En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees”. Dus is die een wat groot is (d.w.s ‘n held is), een wat nederig en diensbaar is.

Liefde bo algemene verwagting

Die Christen moet liefde vir sy medemens hê wat ver bo die verwagting van die wêreld is. Cicero, die antieke skrywer en filosoof, verklap die wêreld se standaarde aangaande liefdebetoning: “Goedhartigheid moet nie aan 'n jongmens of 'n bejaarde bewys word nie: nie aan die bejaarde nie, want hy sal waarskynlik sterf voordat hy die geleentheid kry om jou die guns terug te bewys; en nie aan die jongmens nie, want hy sal dit sekerlik vergeet.”

In teenstelling moet die Christen nie net aan hulle wat vir hom voordelig sal wees of hulle wat hom goedgesind is liefde bewys nie, maar ook aan hulle wat hom verag en hom nie die guns terug sal bewys nie. Ons Here Jesus het gesê, “Seën die wat vir julle vervloek, en bid vir die wat julle beledig...En as julle dié liefhet wat vir julle liefhet, watter dank het julle? Want die sondaars het ook dié lief wat vir hulle liefhet. En as julle goed doen aan die wat aan julle goed doen, watter dank het julle? Want die sondaars doen ook dieselfde. En as julle leen aan dié van wie julle hoop om terug te ontvang, watter dank het julle? Want die sondaars leen ook aan die sondaars, om net soveel terug te ontvang. Maar julle moet jul vyande liefhê en goed doen en leen sonder om iets terug te verwag, en julle loon sal groot wees; en julle sal kinders van die Allerhoogste wees; want Hy self is goedertieren oor die ondankbares en slegtes” (Luk. 6:27-35). Dit is maklik om die wat lieflik is lief te hê, maar dit is werklik heldhaftig om die wat onlieflik is ook lief te hê.

Christus die Held

Vanuit die bogenoemde is dit duidelik dat die eise vir die Christen se lewe besonders groot is. So groot dat dit vir ons, uit ons eie vermoë, onbereikbaar is. Ons kan nie vanuit onsself die lewe leef wat God behaag nie. Die pynlike waarheid is dat ons nie waardige helde van ons Leidsman en Koning kan wees nie. Hierdie besef wil jou saam met die dissipels laat weeklaag: “Wie kan dan gered word?” (Mat. 19:25). Maar gelukkig volg die trooswoord van ons Here: “By mense is dit onmoontlik, maar by God is alle dinge moontlik.” (Mat. 19:26)

Ons het die vermoë om waardige helde in die Koninkryk wees, omdat die Groot Held – ons Here Jesus Christus – ons vooruitgegaan het. Nie net het Hy Homself verneder deur uit die heerlikheid van die hemel neer te daal en ‘n mens te word nie, maar op aarde was Hy hier om te dien en nie om gedien te word nie. Om te dink, die skepper en onderhouer van die ganse kosmos was die voete van Sy eie skepsels. Die verstotelinge van die samelewing het hy lief gehad en Hy het gebid vir die wat Hom gehaat het. Sy ywer vir die eer van Sy Vader was vurig en Hy het nooit geswig of geswyg om die bose te bestry en die goeie te verkondig nie. Hy het altyd die wil van Sy Vader gedoen en dit tot die dood toe, waar Hy sy lewe vir ander gegee het – nie net vir Sy vriende nie, maar ook vir Sy vyande. Hoe groot en volmaak is hierdie Held nie, hoe dapper en getrou! Sy lewe, dood en opstanding maak hierdie heldhaftige lewe vir ons bereikbaar as ons in Hom glo. Só sterwe die ou-mens af en ons beklee onsself met Hom (Rom. 13:14). En nie net kan ons dan deur Sy krag waardige lewens leef nie, maar Sy goedheid is so groot dat Hy ons selfs sal vergewe as ons kortkom en ons sal help om beter te wees.

Helde van ons Here

Aangesien dit nie net die plig van die Christen is dat sy lewe met die heldedade van selfverloëning, dapperheid, nederigheid en onselfsugtige liefde gekenmerk word nie, maar dat God dit ook vir ons moontlik maak om dit te doen en nog boonop daarvoor beloon, sal dit waansinnig wees om nie die Christelike heldelewe met albei arms te omhels nie. Ja, ons sal nie eer van die wêreld ontvang nie, hulle sal ons eerder verag en vervolg. Maar ons sal eer van God ontvang en groot in Sy oë wees. Dink net vir ‘n oomblik, hoe wonderlik sal dit nie wees nie om op die laaste dag God van jou te hoor sê: Welgedaan goeie en getroue dienaar. Jy was ‘n getroue oorlogsheld van my koninkryk op aarde. Kom, gaan in, in die vreugde van jou Koning.

Soek daarom eerste die Koninkryk en sy geregtigheid. Beklee jouself daagliks met die heilige wapenrusting, dra die vaandel van jou Koning – daardie Een wat jou bemin en jou vooruitgegaan het – en storm af op die krygstog van die lewe met onverbiddelike dapperheid, ywer en toewyding. Weerstaan die sonde, wees getrou in jou roeping, hê jou naaste lief en eer God in alles wat jy doen.

In die minder bekende tweede deel van John Bunyan se Pilgrim’s Progress is daar ‘n karakter met die naam Valiant-for-Truth. Sy lewe was dié van ‘n held. Op sy pelgrimstog het hy met volharding en geweld teen die boosheid in sy eie hart gestry. Toe die tyd kom dat hy moes sterwe (in Bunyan se wêreld behels dit om deur ‘n sekere rivier te gaan) het hy gesê:

"Ek gaan na my Vader; en al het ek met groot moeite hierheen gekom, tog betreur ek nie al die moeite wat ek gedoen het om hier aan te kom nie. My swaard gee ek aan hom wat my in my pelgrimsreis sal opvolg, en my moed en vaardigheid aan hom wat dit kan bekom. My merke en littekens dra ek met my saam as 'n getuie dat ek Sy stryde gestry het wat nou my Beloner sal wees."

Dan sluit Bunyan hierdie held se lewe soos volg af:

‘Toe die dag aanbreek dat hy moes vertrek, het baie hom na die rivier se oewer vergesel. Toe hy daarin ingaan, sê hy: "Dood, waar is jou angel?" En toe hy dieper ingaan, sê hy: "Graf, waar is jou oorwinning?" So het hy oorgegaan, en al die trompette het vir hom aan die ander kant geklink.’

[1] Soms moet fisiese wapens wel opgeneem word om die bose te bestry.

Previous
Previous

Feit en Waarde in Genesis

Next
Next

Mymeringe oor die Erekoning van Eden