Mymeringe oor die eerste paar woorde in Genesis

In die begin het God die hemel en die aarde geskape. En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters. En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig.

Die dieptes van Genesis 1: 1 & 3:

In hierdie kort skrywe wil ek poog om aan te toon dat die eerste paar woorde in Genesis 1 nie bloot ‘n beskrywing is van die skeppingswerk van God nie, maar dat dit in die eerste plek vir ons opgeskryf is omdat dit die begin - die genesis - van die openbaarmaking van Jesus Christus is.

Om te skep is om te spreek:

Ek wonder oor die woorde: In die begin het God die hemel en die aarde geskape. Wat is dit as God skep? Wat beteken dit? Gelukkig het ons die ganse Skrif, want ek herinner my aan Johannes hoofstuk 1 wat daar in die eerste paar verse as kommentaar op hierdie woorde van Genesis dien. Johannes begin sy evangelie met dieselfde woorde as Genesis 1: In die begin... en terwyl Genesis praat van ‘skep’ praat Johannes van die ‘Woord’. In die begin was die Woord. Ons word hier iets wysgemaak van wat dit is om te skep. Om te skep is om te spreek. Die Woord word gespreek en die ontstaan van dinge gebeur. Dis die eerste ding. Die refrein in Genesis is duidelik: En God het gesê... Genesis 1 en Johannes 1 beaam dus hierdie waarheid: die Woord (die Logos) is die aktiewe krag in die skeppingsdaad. Die skeppingsdaad is daarom ‘n gesproke daad en as gesproke daad inherent ‘n openbaringsdaad. Want wat is spraak anders as bekendmaking?

Lig is lewe:

Genesis 1 sê verder: En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig. Dit is die eerste skeppingsdaad van God. Johannes praat ook van hierdie lig in sy evangelie. Hy brei uit op wat die skeppingswoord is in vers 4 en sê: In daardie Woord is die lewe en die lewe is die lig (v.4). Om te skape is dus nie net om te spreek nie, maar juis om lewe te spreek – om lewe te skep is om Christus te openbaar want Hy getuig van Homself as die lewe (Johannes 14:6) – en om lewe te spreek is om lig te laat skyn. Die logika sê: Om te skep is om lewegewende lig te spreek. “En God het gesê: Laat daar lig wees!” Hierdie lig is meer as fisiese ligstrale. Dit is die dieper, lewegewende realiteit wat sy ontstaan in Christus – die Woord; die Logos – het. Christus getuig self: Ek is die lig van die wêreld ... (Johannes 8:12).

Skeppingsdaad as openbaringsdaad:

In die skeppingsdaad is openbaring opgesluit. Jesus word bekendgemaak – al heel aan die begin. Skeppingsdaad is openbaringsdaad. Die skeppingsdaad was nooit net oor materie nie. Dit was en is steeds om Christus te openbaar. Paulus stel dit in Romeine 1:20: “[God se] onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid...”

“Toe sien God dat die lig goed was...” Die openbaring van Christus is goed. Dit kan nie anders nie want die lig is die lewe en die lewe is die Woord – die Logos – en die Woord is Christus en Christus is volkome God, die tweede Persoon in die Drie-Eenheid. God uit God, lig uit lig, ware God uit ware God (Geloofsbelydenis van Nicéa). Christus is goed. En die klimaks, die grootste bewys van die skeppingsdaad as openbaringsdaad, is die vleeswording van ons Here Jesus Christus. “En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon...” (Johannes 1:14).

Creatio ex nihilo en creatio ex Deo:

Materieel beskou bely ons dat God ex nihilo (uit niks!) geskep het. Die dinge wat is, is nie van iets wat voorheen bestaan het, gemaak nie. Dit beklemtoon God se skeppingsmag, Sy Almag om dinge wat nooit was nie (en wat dus nooit dinge was nie) te laat wees. Die klem lê op die nooit-was-nie-en-nou-is van die materie. Vanuit ‘n openbaringsbeginsel is dit dalk geoorloof om van ex Deo (uit God!) te spreek.[1] Die God – wat nog altyd daar was – het uit Homself die openbaring gegee. Die weefsel van die geskape dinge; die DNA daarvan roep uit: God! Dit is nie God nie – ons verval nie in Panteïsme nie,  maar, soos Psalm 19 ons leer: “Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande.” Dit deel in die heerlik, verhewe goddelike deurdat dit openbaring is.[2]

Christus as die skepper:

Christus is nie net die een wat openbaar word nie, maar Hy is die skepper van sy eie bekendmaking. Verskeie tekste maak dit duidelik dat Jesus ook skepper is. Hebreërs 1:1-2 sê: “... [God] het in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun wat Hy as erfgenaam van alles aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het.” Kolossense 1:16 sê: “want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte – alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape.” En dan die pragtige deel in Spreuke 8:30 wat spreek van Christus wat ‘n kunstenaar naas die Vader was wat die wêreld geformeer het.

Die teleologie van die skepping:

In bogenoemde hoofstuk van Spreuke word Christus as die Wysheid voorgestel. Dit is dus die Wysheid wat skep – wat openbaarmaak. Elders in Spreuke leer ons dat die beginsel van wysheid kennis van God is. As die Wysheid Christus is en Christus Homself bekendmaak deur middel van sy skeppingswerk en wysheid kennis van God is, kan ons redelikerwys tot die gevolgtrekking kom dat die doel – die teleologie – van die skepping as openbaring dus kennis van God is. En dat daardie kennis van God dan as hoogtepunt saamtrek in Christus Jesus wat Homself in die diepste dimensies van sy eie skepping openbaar deurom self mens te word.

Hy het geskep sodat hy geken kan word. Die wat Christus ken, is die wat die skepping die diepste verstaan want hulle deurskou die doel van dit alles: “Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Romeine 11:36).


[1] Ek is bewus van die panteïstiese gebruik van hierdie term en gebruik dit daarom met kwalifiserende versigtigheid.

[2] Vgl. 2 Petrus 1:3-4; Romeine 8:19-23; Psalm 82:6.

Previous
Previous

Mymeringe oor die Erekoning van Eden

Next
Next

Christelike Oordenking