Christelike Oordenking

Hierdie artikel het onlangs in die gemeenteblad van die Gereformeerde Kerk Oos-Moot verskyn en is oorspronkilk vir daardie publikasie geskrywe.

As dissipels van ons Here Jesus Christus, word daar van ons verwag om te groei “in die genade en kennis van onse Here” (2 Pet. 3:18) en te “soek na die dinge daarbo” (Kol. 3:1) sodat ons “tot eer van God vrugte kan dra” (Rom. 7:4). Ons maak vordering in hierdie roeping deur in geloof met die krag van die Heilige Gees ywerig die genademiddels (Woord, gebed en Sakrament) te gebruik. Maar ons vordering in hierdie verhewe roeping word soms vandag belemmer weens die gebrek aan ‘n grootliks vergete geestelike oefening – die brug tussen Woord en gebed – sogenaamde Christelike oordenking of Christelike meditasie.

Die beoefening van Christelike oordenking (om doelbewus oor God en die dinge van God na te dink) word talle kere in die Skrif genoem en baie Gereformeerde heiliges van die verlede het dit as ‘n belangrike aktiwiteit in elke gelowige se lewe beskou. Die Presbiteriaanse prediker en skrywer Thomas Watson (c. 1620-1686) het gesê, “Die Christen sonder oordenking is soos ‘n soldaat sonder wapens, of ‘n ambagsman sonder gereedskap. Sonder oordenking sal die waarhede van God selde by ons bly, want die hart is hard en die geheue glibberig”. Plegtige oordenking oor “die dinge daarbo” het in ons tyd onder meeste Christene verdwyn, en die rede hiervoor is moontlik tweevoudig. Die eerste is die aard van ons moderne leefwyse. Die moderne lewe is besig en haastig, en ons word onophoudelik met allerlei afleidings en nuwighede gebombardeer. As dit nie ons selfone is wat ‘n honderd keer per dag ‘n geluid maak wat na ons aandag smag nie, is dit ons lang werksure en koorsagtige heen-en-weer gejaagery agter ander aktiwiteite aan wat ons en ons dag van tyd en rustigheid ontneem – juis dit wat diep oordenking vereis. Die tweede is dat hierdie tipe oordenking (veral die woord meditasie) deesdae met Oosterse meditasie en ‘New Age’ spiritualisme geassosieer en verwar word. Alhoewel Bybelse meditasie en hierdie heidense gebruike in skerp teenstelling is, dink ek die wydverspreide wanpersepsie van die betekenis van meditasie kan opregte Christene so verstoot dat hul selfs nie eers die Bybelse beoefening daarvan wil oorweeg nie.

In hierdie artikel gaan ons begin deur te kyk na wat Christelike oordenking is en wat die doel en voordele daarvan is, deur om na die Bybel se getuienis en dié van die teoloë van ouds te kyk. Daarna gaan praktiese riglyne gegee word oor hoe om hierdie tipe oordenking te doen.

Wat is Christelike oordenking?

Om te mediteer beteken om te dink, te bepeins of te oorweeg. Dus is meditasie ‘n aktiwiteit van die verstand waartydens daar diep en doelbewus oor iets gedink word. Die verstand word dus met gedagtes vol gemaak en nie leeg gemaak soos in die Oosterse idee van meditasie nie. Streng gesproke, mediteer elkeen van ons eintlik gereeld. Ons dink gereeld na oor ons werk, belangstellings, verhoudings, verlede en toekoms. Hierdie onderwerpe word in ons verstande aan uitvoerige beplanning, deeglike oorweging en besinning van die fynste besonderhede blootgestel.

In Bybelse tye was die oordenking van God en die waarhede van God geensins ‘n eienaardige verskynsel nie. Ons sien dit by figure soos Josua (Jos. 1:8), Dawid (Ps. 63:7), Asaf (Ps. 77:4) en Maria (Luk. 2:19), en by die volk Israel (Deut. 8:2). Boonop is die Psalms vol van voorbeelde (bv. Psalms 1, 94, 104, 119, 139 en 143). Die onderwerpe van die oordenkings waarvan ons in die Bybel lees het hoofsaaklik gefokus op God se wet (Ps. 1:2, 119:48 ens.) en God se dade (Ps. 77:12-13, 143:5 ens.). Die rede of doel vir die beoefening van die oordenkings was om die waarhede van God in die “hart te berê” (Ps. 119:11), sodat God en sy wet nie vergeet sal word nie (Deut. 6:8; Ps. 119:15, 59, 93), en sodat ons aan Hom gehoorsaam sal wees en nie teen Hom sal sondig nie (Jos 1:8; Ps. 1; 119:11). Die uitwerking van die oordenkings was onder andere vreugde en verlustiging (Ps. 63:6-7), vertroosting (Ps. 94:19) en wysheid (Ps. 119:99).

In die 17de eeu (veral in Engeland en die Nederlande), was hierdie tipe Bybelse oordenking ‘n algemene onderwerp in preke en geskrifte. Oor die aard van Christelike oordenking, het Watson gesê dit is “’n gewyde oefening van die verstand waardeur ons die waarhede van God tot gedagtenis roep, en plegtig daaroor nadink en toepas op onsself”. Baie predikers en teoloë het destyds dit as noodsaaklik vir volgehoue geestelike groei en versterking gesien, omdat hulle dit as die brug tussen die hoor/lees van die Woord en gebed beskou het. Vir hulle was dit ‘n oefening wat tussen hierdie twee genademiddels plaasgevind het, waartydens die waarhede van die Woord aan die verstand en hart vasgemaak word, sodat die inhoud van ons gebede geskik en ryk sal wees. Oordenking was ook as ‘n belangrike deel van Bybelstudie geag, Watson het gesê, “blote studie is om die waarheid te gaan uitvind, meditasie is om daardie waarheid in ons te verhef – die eersgenoemde is soos om vir goud te soek, maar die laasgenoemde grou daardie goud uit”. Oordenking het nie net die verstand betrek nie, maar ook die hart (d.w.s. ons gevoelens en setel van ons diepste oortuigings). Dat ons geloof ook vir ons ‘n hartswaarheid moet wees is noodsaaklik (HK Sondag 7, Vraag 21; DL 3/4:9 ). Dus was oordenking vir hierdie Godvresende manne ‘n middel wat kon help om die waarhede van God aan die hart te kleef sodat daar oortuiging en verandering in hul lewens teweeggebring kon word – dat hul harte “sonde kan haat” en “ontbrand met liefde vir Christus”, soos Edmund Calamy (1600-1666) dit gestel het.

Hoe doen ek hierdie tipe oordenking?

Uit die bogenoemde het ons gesien dat om oor God en die waarhede van God na te dink nie net ‘n Bybelse praktyk is nie, maar iets is wat wonderlike voordele vir ons kan hê en wat in die verlede as ‘n hooggeagte, en selfs noodsaaklike, Christelike oefening beskou was. Nou kom die vraag oor hoe ons in ons tyd hierdie taak kan verrig. In ‘n poging om dit te beantwoord, gaan ons by daardie 17de eeuse teoloë kers-opsteek en hier-en-daar sal ek my eie beskeie ervarings deel. Daar is geen rigiede reëls vir die beoefening van Christelike oordenking nie, elkeen moet sy eie manier vind. Daarom gaan slegs riglyne, wat ons sal help om die taak goed kwyt te raak, hier verskaf word.

Algemene beginsels
Die taak van Christelike oordenking, om dit bondig op te som, is om die waarhede van God en Sy Woord wat reeds aan ons bekend is tot gedagtenis te roep, daaroor te besin en toe te pas op onsself sodat daardie waarhede beide in die verstand en hart tuiste kan vind.

Die volgende algemene beginsels kan uit die bostaande gelet word:

  1. Die inhoud van ons oordenkings moet Bybelse waarhede wees. So ook moet enige toepassings en gevolgtrekkings in die geopenbaarde Woord gegrond wees.

  2. Ons moet ons oordenkings beperk tot waarhede waarmee ons bekend is. Dit sal ons help om dwaling te vermy.

  3. Om iets te kan herroep en daaroor te kan besin voorveronderstel dat ons kennis daarvan het. Hierdie kennis kry ons deur die Woord te lees/hoor en ander betroubare bronne (Belydenisskrifte, boeke, lesings, video’s ens.) te raadpleeg.

  4. Ons moet poog om die onderwerp van oordenking, indien dit gepas is, op ons en ons lewens toe te pas sodat dit uiterlike vrug kan voortbring.

Onderwerpe van oordenking
Ons oordenkings moet gaan oor God en die waarhede van God. Dit behels dinge soos die eienskappe van God; God se wet; God se beloftes; die boosheid van sonde; die persoon van Christus; die ampte van Christus; ons erfdeel in Christus ens. – die lys is feitlik oneindig. Die 17de eeuse teoloë noem vyf bronne waaruit ons onderwerpe vir oordenking kan kry: die Bybel, Christelike leerstellings, preke, gebeurtenisse en die skepping.

Die Bybel en Christelike leerstellings (Belydenisskrifte) is vanselfsprekend onuitputbare bronne. Preke is ook baie goed, veral as daar iets in die preek was wat jou diep geraak het of vir jou besonders treffend was. Gebeurtenisse of ervarings verskaf baie moontlikhede, dink aan God se voorsienigheid in die verlede of dalk die seëninge en beproewings wat oor jou lewenspad gekom het. In die skepping kan ons dikwels geestelike waarhede raaksien, kyk byvoorbeeld na Dawid in Psalm 8 oor die hemelruim en Salomo in Spreuke 6 oor die mier.

Die oordenking
Die 17de eeuse teoloë wat oor oordenking geskryf het was geneig om tussen twee tipes te onderskei. Die eerste is ‘n meer spontane tipe oordenking wat deur daaglikse gebeure gelei word, terwyl die tweede ‘n doelbewuste afsondering van tyd vir oordenking behels.

Die eerste tipe gaan daaroor om geestelike waarhede in aardse dinge wat met die sintuie waargeneem of ervaar word te sien. Hierdie is ‘n eenvoudige en tasbare oefening en is dus veral geskik om met jou kinders te deel. Hier is twee voorbeelde om te illustreer wat hiermee bedoel word:

  • As jy ‘n trop skape langs die pad sien, dink daaraan dat jy eens soos ‘n weerlose skaap was, kwesbaar vir allerhande gevare. Dink dan aan ons Here Jesus, wat nou jou herder is en so sorgsaam na jou omsien. Verbeel jou nou hoe die skape daardie Herder begin volg, wat hulle nou na groen weivelde lei. Sien die Herder voortaan, vreesloos en sterk, wat ‘n swak lammertjie teen sy bors dra.

  • As jy ‘n huweliksbevestiging bywoon, sien hoe die Vader die kerk as bruid vir sy Seun bring. Dan, as die bruidspaar daar voor bymekaarstaan, sien in die bruidegom hoe Christus Homself en alles wat Hy het (sy geregtigheid en erfdeel) vir sy bruid gee en hoe die bruid (jy as lid van die kerk) dan haarself en alles wat sy het (haar sonde en tekortkominge) vir die bruidegom gee.

Laat jou hart kwesbaar vir die verhewendheid van hierdie beelde wees, sodat jy die volle rykheid en soetheid van die waarhede wat afgebeeld word jou eie kan maak. Wys dit vir jou kinders en huweliksmaat uit, dat hulle daarin met jou kan deel. Maak net altyd seker dat die inhoud van die oordenkings in die leer van die Skrif begrond is.

Die tweede tipe oordenking behels dat daar ‘n tyd iewers in die dag vir nadenking afgesonder word. Dit kan deel van ons daaglikse skedule gemaak word of dit kan selfs in die vrye tyd wat ons deur die loop van die dag tot ons beskikking kry gedoen word. ‘n Baie goeie idee is om dit deel van ‘n mens se daaglikse stiltetyd te maak, tussen Bybellees en gebed. Sondae is veral geskik om oor die dag se preek te besin. Die teoloë van ouds stel tereg voor dat mens begin deur die hulp en leiding van die Heilige Gees te vra. Dan begin jy deur ‘n onderwerp van oordenking te kies. ‘n Goeie plan is om die Skrifgedeelte of ‘n gedeelte daarvan wat jy tydens jou stiltetyd gelees het, of die Skrifgedeelte of tema waaroor die preek gehandel het, te kies. Andersins, kies ‘n Bybelse tema of Skrifgedeelte wat jou huidige ongesteldheid aanspreek. Gaan soek en lees relevante Skrifgedeeltes en Belydenisse indien jy dit nodig reken om jou kennis aan te vul.

Begin dan oor die onderwerp besin. Ter verduideliking, sal ons veronderstel ons oordink ‘n Skrifgedeelte wat ons gelees of in ‘n preek gehoor het. Daar is geen rigiede manier om dit te doen nie, maar dit gaan basies daaroor om die inhoud en besonderhede van die Skrifgedeelte fyn in jou gedagtes te ondersoek. Dit kan soos volg gedoen word: identifiseer die temas of leringe van die teks; gaan deur elkeen en dink aan die besonderhede daarvan; oorweeg die verskillende aspekte en implikasies; herroep ander toepaslike Skrifgedeeltes, leerstellings of relevante kennis wat jy van boeke of preke gekry het; dink aan toepaslike illustrasies, vergelykings en teenstellings wat die waarhede in die teks mooi afskilder; vra vrae oor die betekenis van die teks en verskaf jou eie antwoorde; vra hoe Christus en die Evangelie na vore kom ens. Na hierdie proses sal jy agterkom dat jy nou baie meer kennis en insig oor die Skrifgedeelte het as wat jy aan die begin gehad het. En weens die tyd en aandag wat jy hieraan spandeer, sal hierdie waarhede en die teksverse met tyd in jou verstand en hart geberg word.

Hierna moet ons die waarhede en insigte wat ons verkry het op onsself toepas. Dink hoe die inhoud van die Skrifgedeelte op jou persoonlik van toepassings is. Vra vrae soos: Wat kan ek hieruit leer? Hoe moet ek van nou af anders optree of dink? Glo ek werklik wat hier staan? Hoe vergelyk my lewenswandel met die gegewe eise? Maak die vertroostende beloftes en Evangeliewaarhede van die Skrifgedeelte jou eie, deur jouself te herinner dat dit vir jou ook deur geloof beskikbaar is.

Sluit dan af met gebed. Bid oor die waarhede en insigte wat jy ontdek het. Jy sal onmiddellik agterkom dat jy nou baie meer dinge het om oor te bid en dat die inhoud van jou gebede meer diepgaande is. Hiervan kan ek persoonlik getuig.

‘n Woord van bemoediging

Christelike oordenking is ‘n taak wat inspanning en oefening benodig. Dit is nie altyd maklik nie, veral wanneer ingewikkelde onderwerpe met die tweede tipe aangepak word. Maar soos ons uit die Skrif se getuienis gesien het, kan dit vir ons baie voordelig wees. Daarom, begin om geestelike waarhede in aardse dinge te identifiseer en gaan dink bietjie na oor wat jy in die Bybel lees en Sondae in preke hoor. En as jy bedroef, bevrees of siek is en voel dat God jou verlaat het – of wat ook al jou ongesteldheid mag wees – gaan herinner jouself aan en oorweeg die talryke soet beloftes, rol dit onder jou tong totdat jy die soetheid in jou gees proe.

Om met die oordenking van die dinge van God te begin is soos om vuur met nat hout te maak, aan die begin sal daar maar slegs ‘n bietjie rook wees, maar dié wat volhard sal uiteindelik ‘n vlam kry, en daardie vlam sal tot ‘n vuur ontbrand. Onthou ons Here Jesus se belofte, Hy sal jou nie verniet laat soek nie: “hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word” (Luk 11:10).

Previous
Previous

Mymeringe oor die eerste paar woorde in Genesis

Next
Next

Die Gevalle Vrou