Die Gevalle Vrou

Die volgende blog-artikel is ‘n verwerking van ‘n lesing wat ek vir dames van ‘n gemeente een oggend gegee het. Oftewel ‘n lesing by ‘n damesoggend… Hierdie spesifieke lesing was deel van ‘n groter reeks - “Vrouwees in Christus” - wat deur verskeie sprekers deur die jaar behartig is. Aan my, van alle mense, is die netelige kwessie van die gevalle vrou toegesê.

“Wat weet ek nou eintlik van vrouens?”, was die vraag van ‘n ouerige tannie aan my. Ek antwoord haar toe: “Ek weet nie baie van vrouens nie; maar van die gevalle mens - wat die vrou nie uitsluit nie - kan ek darem iets sê; ek het al meer as 20 jaar ervaring…"

Hier onder dan wat (meestal) gesê is:

As ‘n mens oor die gevalle vrou praat, dan bedoel ons met ‘gevalle’ die in-sonde-gevalle vrou. Ons gaan die sonde waarin die vrou geval het moet verreken. Dit beteken dat ons eerstens moet vra na die aard van sonde – wat is sonde nou eintlik? Baie kort: on-regverdigheid. Wat is regverdigheid? Volgens die Skrif word menslike regverdigheid op ‘n drievoudige wyse beskryf:

  • Gehoorsaamheid aan God - wanneer die God se standaarde (sy wet) gehoorsaam word (Jak. 4:11; Joh. 3:4)

  • Die regte doelwit – God-verheerliking. God se glorie en eer (1 Kor. 10:31) en die suksesvolle uitbreiding van Sy koninkryk (Matt.6:33)

  • Ware motiewe - Wanneer jy deur ware geloof en liefde vir God gemotiveer word om bogenoemde te doen (vgl. Rom.14:23; 1 Kor. 13:1-3).

As dit die geval is, dan is sonde net die omgekeerde:

  • Wanneer valse standaarde vir jou geld – ongehoorsaamheid aan God

  • Wanneer valse doelwitte jou voor oë is – selfverheerliking

  • Wanneer daar valse motiewe teenwoordig is – haat (liefdeloosheid), ongeloof

Die sonde in praktyk

Kyk hoe speel dit in die tuin van Eden uit:

God gee ‘n liefdesgebod in Gen. 2:16-17: “Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.”

Die slang verander daardie gebod (o.a. Gen. 3:1): “Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?” Die vrou antwoord die slang (verkeerdelik) in v. 2 en 3 (sy voeg by en laat weg) – valse standaarde.
Hier saai die Satan twyfel in die hart van die mens: is die liefdesgebod werklik vir ons uit absolute Goddelike liefde gegee, of is dit eintlik ‘n despotiese verbod wat keer dat die mens nie hul volle potensiaal bereik nie?

Vers 4-5 stel valse doelwitte. Hier gaan dit uiteindelik om selfverheffing en self vergoddeliking. “julle sal soos God wees...” Deur goed en kwaad te ken beteken hier om selfstandig, outonoom te heers oor wat goed en wat kwaad is. Dis om die mens die regter oor sy eie lewe te maak – hier lê die wortel van die liberale, verkeerde vryheidsopvatting: Dat ek kan doen wat ek wil.

Vers 6 dui die valse motief aan. Dis selfliefde.

Ten slotte kan ons hierdie drie punte saamvat en sê sonde is, ten diepste, afgodery. Kyk, ons is religieuse wesens, ons kan nie NIE aanbid nie. Die vraag is nie of jy iets aanbid nie, maar wie of wat aanbid jy?[1] Ek en jy is afgodsdienaars. Dis om iets of iemand anders hoër in jou lewe as God te stel. En wat jy aanbid, so word jy. Ons is veronderstel om heerliker en heerliker na die beeld van ons Skepper te lyk – wat beteken dat ons Hom in alles moet weerspieël – Dis om beelddraers van God te wees. Maar ons aanbid ander dinge en word soos die ander dinge. Vgl. Psalm 115: 5-8.

Alle afgode is versinsels vanuit die aarde (Rom. 1) en indien ons word wat ons aanbid maak dit wat die Here sê, as straf op ons sonde van afgodery, soveel sin: Uit stof is ons en tot stof sal ons terugkeer…

Dis die gevalle mens. Dis hoekom ons is soos ons is vandag – ons buig nie voor die lewende God nie, maar voor afgode geskep in ons eie hart.

[Op hierdie punt dink ek toe aan ‘n staaltjie wat by bogenoemde aansluit:]

In 'n koerantberig - moontlik uit The Times - vra iemand 'n keer die vraag: wat is fout met die wêreld? Hierop rig G.K. Chesterton, na my mening, 'n briljante antwoord waarin hy net die volgende sê: Dear sir, I am, sincerely yours.

Die gevolge is ten eerste ‘n verskeurdheid in die verhouding tussen God en mens (v.8-10), maar ook tussen man en vrou (v.7).

Man en Vrou het Hy hulle geskape…

Maar nou moet ons weet dat God nie net die mens bloot méns geskape het nie, maar spesifiek man en vrou (Gen.1:27). Dit is ‘n geskape werklikheid dat die mens ‘n twee-geslagtelike wese is. Die mens is dus nie net liggaam en siel nie, maar is dit op twee-ledige wyse: op ‘n manlike en vroulike wyse. Die ganse wese van die vrou is deurtrek met vrouwees. Die vrou is mens op ‘n uniek vroulike wyse en daarom sien ons ook dat die gevolge van die sonde vir die vrou (3:16) anders lyk as vir die man. Die gevolge van die sonde vir die man het primêr met sy aardsgerigte heerskappy en onderwerping van die skepping te make – daar is min sprake van menseverhoudinge (v.17-19). By die vrou gaan dit amper nét oor menseverhoudinge (ek reken dit het met die vrou wat as ‘hulp’ [mensgerig] vir die man geskep is te make)

Hier gee die Skrif vir ons die brandpunt waar die gevalle vrou telkens struikel.

V.16 bestaan uit twee dele:

  • Deel van jou skeppingsopdrag saam met Adam (om vrugbaar te wees en te vermeerder) sal met moeite en smart gepaard gaan – dit gaan nie maklik wees nie.

  • “...en na jou man sal jou begeerte wees, en hy sal oor jou heers.” Hieroor is baie verskillende opinies en die kommentaar-skrywers lyk ook nie of hulle altyd op dieselfde bladsy hieroor is nie. Vgl. met 4:7. Die sonde wil stryd teen Kain voer, Kain moet terugveg. In mees fundamentele sin gaan die oordeel oor die vrou daaroor dat daar in die verhouding tussen man en vrou altyd stryd sal wees. Hoekom? Want selfverheffing laat geen ruimte vir eweknieë nie. Twee gode kan nie albei koning wees nie.

Die in-sonde-gevalle vrou wil nie meer wees wat God haar gemaak het om te wees nie – sy wil nie meer ‘hulp’ wees nie.[2] (As hulp bedoel ons die vrou se komplimentêre gerigtheid tot die man sodat beide man en vrou saam en tot aanvulling van mekaar hul taak as mens oor die skepping kan uitvoer – nl., om te heers).

Die aftakeling van menswees

Maar sien wat gebeur het? Die differensiasie in die geslagte het begin om ‘n kortsluiting te maak omdat die ménslikheid afgetakel is deur die sonde. Die ‘balans’ van eenheid (in die menslikheid) en die verskeidenheid (in die geslagtelikheid) is versteur en die geslagtelikheid het as die een en al uitgestyg. Dit het dié kwessie geword: manwees en vrouwees! En intussen het menswees verbrokkel. Menswees is juis die eenheid wat man en vrou saambind. Sodra dit vergeet word dan sit mens met ‘n onversoenbare verskeidenheid. En dan kry jy die stryd vir dominansie wat die Skrif beskryf: Die vrou sal die man wil oorheers, maar die man gaan telkens haar oorheers. Dis ‘n armdruk tussen die geslagte.  Menswees verbrokkel wanneer jy dink jy’s ‘n god. Wanneer jy vergeet jy is geskape en onder die heerskappy en koningskap van God.

Feminisme onder die loep

Die toonbeeld hiervan in konkrete sin is definitief die feminisme. Hieroor net ‘n paar penstrepe:

  • Al die groot standpunte van die feminisme handhaaf die aanname dat daar geen belangrike verskil tussen man en vrou is nie. Gelykheid tussen die geslagte is van primêre belang. Maar hoor nou die valse teenstelling: hulle stel verskillend wees en gelykwees teenoor mekaar. Die eintlike teenstelling is gelyk en ongelyk. Die Skrif leer ons dat ‘n mens beide gelykwees (die feit dat albei mens is en na die beeld van God geskape) en verskillend wees (die feit dat daar man en vrou geskape is) tegelyk kan handhaaf. So as die feminisme in optogte skree: ons soek gelykheid! Dan sê ons: Ja! Dis niks nuuts nie. Ons bely dit al van die dag dat die mens gemaak is. En as die feminisme skree: geen verskille nie! Dan sê ons Nee! Laat daar soveel moontlik verskille of diversiteit in die gelykheid wees. So word die beeld van God juis in sy polichroniese (veelkleurige) heerlikheid weerspieël.

  • Die gelykheid lê in die menswees van beide man en vrou. Maar die menswees het verbrokkel en nou soek hulle gelykheid in wat eintlik slegs verskillend kan wees. En in die soeke na gelykheid tussen wat eintlik net verskillend kan wees (omdat dit verskillend geskape is) vernietig jy eintlik beide manwees en vrouwees.

  • Hier sien ons dus dat feminisme selfvernietigend is. Dit maak absoluut sin want dis ‘n sonde (‘n sonde van selfverheffende afgodery). En die Skrif leer ons dat die loon van die sonde die dood is. Prakties sien mens dit in die aborsie wetgewing. As ‘n mens konsekwent die feminisme handhaaf moet jy noodwendig pro-keuse wees. Jy moet aborsie goedkeur.[3] Die geskiedenis van die opkoms van die feminisme bewys dit – dit loop parallel.
    Hier sien ons ‘n direkte verontagsaming van die opdrag van God: wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde. Gewaagde vraag: is geboortebeperking of gesinsbeplanning altyd Bybels gegrond? Hoekom geld 2 kinders as ‘voldoende’? Is: “kry soveel as wat gesond moontlik is” nie ‘n beter, verbondsmatige oortuiging nie?

  • Die feminisme is berower van beide die man en die vrou se vryheid. Ware vryheid is om die regte keuses uit te oefen op grond van God se wette wat Hy aan ons gee. Religieus gesien is dit eenvoudig roepingsvervulling. As die vrou se begeerte is om die roeping van die man te doen, dan handel sy onvry en druis in die proses teen die vryheid van die man in. Hoe meer die man sy vryheid deur gehoorsame liefdesdiens verwesentlik, hoe meer stimuleer en steun dit die verwesentliking van sy vrou se vryheid as vrou.
    Maar nou speel jy die twee vryhede van man en vrou teenoor mekaar af en impliseer daarmee dat as die een vry is, die ander een nie vry is nie. Dit verklap dat jy ‘n verkeerde idee van vryheid het. Jy dink vryheid is ongebondenheid en dat jy kan doen wat jy wil.[4] Die feminis soek dus vryheid ten koste van die man se vryheid. Maar die Skrif handhaaf komplimenterende vryheid vir man en vrou. Die een kan nie vry wees sonder die ander een nie.

Per Slot van Rekening

Ek wil afsluit met nog ‘n paar gedagtes:

Dalk dink julle dat dit nou ‘n goeie loesing was vir die feministe daar buite. Maar die kerkmense is tog heel goed. Ek wil ‘n hopelik paradigma-skuiwende stelling maak en sê: feminisme is nie die antwoord nie, maar konserwatisme ook nie. Konserwatisme is bloot die skaduwee van die liberalisme (waaraan ons die feminisme koppel). ‘n Mens kan hoe konserwatief wees maar nie die feminisme ontkom nie. Ek wil dit waag en sê dat elke konserwatiewe vrou ook ten diepste feminis is. Ek waag om dit te sê want ten diepste lê beide hierdie uiterstes gewortel in hoogmoedige selfverheffing – dit lê net op verskillende punte. Dit gaan ook in die konserwatisme, nes in die liberalisme dikwels oor jou. Kyk my gesin, kyk my man, kyk hoe tradisioneel is ek as vrou. Oor wie gaan dit dan eintlik? Dis in die hart van harte feministiese afgodery.

“If you try to make women, as a group, do nothing difficult except have babies (konserwatisme), they’ll be wretchedly unhappy. If you try to make women, as a group, work like dogs but deny their roles as mothers, they’ll be wrechedly unhappy” Merkle, Eve in Exile, bl.104.

‘n Volgende ding. In Titus 2:5 lees ons van die vrou wat huislik moet wees. Griekse samestelling van die woorde oikos (huis) huis en ergon (werk) = tuiswerker of tuisteskepper. Vrouens is nie gesê om nie te werk nie. Inteendeel hulle deel die opdrag van Adam om die aarde te bewerk en daaroor te heers. Die vrou moet en mag hard werk! (Spreuke 31). Wat belangrik is, is dat die Skrif dit duidelik maak dat die vrou se fokus die huis en die huisgesin moet wees. Dis haar fort! En sy het die voorreg om skeppend dit huislik, warm en verwelkomend in te rig. Bou dinge, maak mooi, doen naaldwerk, maak tuin, wees gasvry, eksperimenteer met kos![5] Hou op onkreatief wees – dis ongehoorsaam. Daar lê ‘n vreugdevolle sprankeling in so ‘n huis waarby die konserwatisme nie kan kers vashou nie en die Liberalisme nooit sal ken nie.

Neem jou rol as helper ernstig. Dis broodnodig. Vrouwees is nie vervelig nie, dis onmoontlik want God is nie ‘n vervelige Skepper nie. In die beeld van Christus as bruidegom vir sy kerk as bruid is julle, susters, die toonbeeld van hoe die kerk hier op aarde is. Julle is die glorie van die bruidegom (1 Kor. 11:7) – die glorie van Christus. Laat dit blyk in vanaand se ete.


Notas vir dinge wat moontlik gesê kon word maar toe nie is nie…

[1] Ateïsme is daarom, terloops, een groot klug. Nuetraliteit i.t.v. godsdiens bestaan nie.

[2] Hoekom trap ons so suutjies om die term ‘hulp’ hier in ons kerke? Het ons nie dalk al reeds begin inkoop op die emansipasie van die vrou nie?

[3] As ek gelykheid soek tussen die man en die vrou. Moet die vrou so vry wees soos die man. Maar die seksuele gevolge vir die vrou is altyd ‘groter’ as vir die man nl., swangerskap. Dit verhinder die vooruitgang van emansipasie. Dis ‘n argument gebore uit absolute selfsug en vergoddeliking van die self.

[4] Maar om te doen wat jy wil is nie Vryheid nie, maar om slaaf van jou eie drange en begeertes te wees. Dit baar sonde en dan die dood.

[5] Die uiteinde van die godsdiens is Kos. God is die groot gasheer en Hy sê: neem, eet, dit is my liggaam. (Geneem uit M. Versveld, Die Neukery met die Appleboom)

Previous
Previous

Christelike Oordenking

Next
Next

Die Verkeerde Vrae