Die Verkeerde Vrae

Dit raak hoe langer hoe meer die geval dat wanneer ek na die Skrif toe gaan ek die voorveronderstelling hard in my hoor bulder dat ek heelwaarskynlik verkeerd is.

Dit is gesond om te verstaan dat die Bybel beter as jy weet en dit het gevolge vir die interpretasie van die teks. Dit is nie ek wat na die Skrif toe gaan om my eie paradigmas en strukture te bevestig om my lewensbeskouing-ego te streel nie. Dit is eerder die idee dat ek na die Skrif gaan gereed om anders en veranderd (let wel: meer as net geholpe) daar weg te stap. Dit is nie om bloot ‘beter’ duskant Bybellees uit te kom nie; want dis gedagte gange wat presies naspreek wat die Joodse leiers op aangedring het - en dis hulle wat Christus laat kruisig het…  ‘n Hermeneuse wat Christus kruisig? Dis om die Skrif te lees maar nie sό dat die Skrif jou lees nie.

En dit is juis waar ‘n mens wil wees: Die oë van die Skrif moet jou siel deurskou en paradigmas in jou verpletter en ruk. Die landskap moet lyk soos slagvelde vol loopgrawe en versplinterde bome waar die fondasies van die dood uitgegrawe is tot op die diepste stene en elke afgodspaal in ‘n miljoen klein stukkies met waarheidsmortiere opgeblaas is. Dit is die sine qua non, die absoluut noodsaaklike van Skrif-interpretasie. Die waarheid is nie van meet af aan my vriend nie. Dit verklaar oorlog teen my vestings in my eie hart en is gevaarlik ‘anders’ as die konstellasies in my opgesmukte eie wese. Ek verwag dus paradigmaverskuiwende gebeure wanneer ek Skrif toe gaan. Ek verwag dat ek verkeerd is en dat God reg is.

Kierkegaard het in een van sy bekende werke Either/Or ‘n opbouende diskoers (‘n tipe van ‘n preek) geskryf met die titel: The Upbuilding Thought That Lies in the Thought That in Relation to God We Are Always in the Wrong.

Hy skryf daarin die volgende:

"Why did you wish to be in the wrong in relation to a person? Because you loved. Why did you find it upbuilding? Because you loved. The more you loved, the less time you had to deliberate upon whether or not you were in the right; your love had only one desire, that you might continually be in the wrong. So also in your relationship with God. You loved God, and therefore your soul could find rest and joy only in this, that you might always be in the wrong. You did not arrive at this acknowledgment out of mental toil; you were not forced, for when you are in love you are in freedom."

Ek sit en dink of dit nie ook vir ons Skrif-interpretasie moet geld nie. Dit word dan ‘n hermeneuse van liefde. Hoe meer jy liefhet, hoe minder het jy die tyd en wil om te stry oor of jý nou eintlik reg is of nie (NB: jy is nie...). En die oomblik wanneer die gedagte by jou opdring dat jy eintlik reg is, dan is die teenoorgestelde vir jou waar – jy is verkeerd. Wil ek dan uiteindelik aan my eie kant wees? Wil jý? Ek dink die beste en dalk mees ekstreme voorbeeld van mense wat aan hulle eie kant is, is die woke-gepeupel. Jy is so aan jou eie kant dat jy die kant word. En as jy die kant is dan is daar geen jy wat meer aan ‘n kant is nie en as daar geen jy is nie, dan raak ‘kant’ ook ‘n misnomer. Die hele ding blaas uiteindelik in jou gesig op. Om aan jou eie kant te wees is om gereed te maak vir selfvernietiging. Dis dom.

Ek lees onlangs weer die gedeelte in Josua hoofstuk 5: 13-15:

“En terwyl Josua by Jérigo was, slaan hy sy oë op en kyk, en daar staan 'n man teenoor hom met 'n ontblote swaard in sy hand; en Josua het na hom gegaan en hom gevra: Behoort U by ons of by ons vyande? En Hy sê: Nee, maar Ek is die leërowerste van die Here; Ek het nou gekom. Toe val Josua met sy aangesig op die grond en buig hom neer en vra Hom: Wat wil my Here aan sy dienskneg sê? Toe sê die leërowerste van die Here vir Josua: Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waar jy op staan, is heilig. En Josua het so gedoen.”

Josua vra ‘n skynbaar heel geldige vraag: Is u vir ons of vir ons vyande? Maar die antwoord van die leërowerste klink nie op die oog af baie geldig nie: Nee. Dit pas nie as ‘n samehangende antwoord op die vraag nie. Ons word wel tot sinne gehelp deur die verdere kwalifikasie van die man op sy “nee” vir ‘n antwoord: hy is die leërowerste van die Here. Hier staan dus ‘n man voor Josua wat die weermag van waarheid lei. Hierdie man kόm in waarheid. Bybels teologies gesproke: hier staan die Waarheid voor Josua. En dis hierdie Waarheid wat antwoord: Nee.

As die waarheid nee antwoord op ‘n skynbaar geldige vraag, en daar steeds nie logiese samehang is en dit steeds nie sin maak nie. Dan is die enigste verklaring, dink ek, dat dit ‘n verkeerde vraag was om te vra. Die waarheid word nie gedwing om kant te kies tussen valse keuses nie. Die waarheid bepaal dus nie net die antwoord nie, maar rig ook die vraag. Met die vraag wat Josua vra word verklap dat hy aan sy eie kant wou wees. Dit is ek (Josua) en die vyand – dit is die enigste twee opsies.

Dat die man sy “nee” verklaar deur om bekend te maak dat hy die leërowerste van die Here is, stel hy die paradigmaverskuiwing egter in plek. Josua kom nie met die waarheid na hierdie man nie, maar Josua staar die waarheid in die gesig. Die Waarheid (as persoon) staan voor hom. ‘n Mens lei af dat Josua amper direk besef dat sy vraag vanuit ‘n verkeerde voorveronderstelling voortspruit – ‘n veronderstelling dat hy reg is. En met die “nee” vanuit die mond van die Waarheid word die bolwerk van Josua se vraag oombliklik vernietig. Die tuin waaruit die vraag (en die gepaardgaande keuses) voortspruit word braak gelê en die leërowerste maak dit duidelik dat Josua in ‘n hele ander tuin staan – ‘n tuin waarin hy kaalvoet moet staan; hy staan hier in God se tuin.

Dis die paradigmaskuiwe wat die Skrif kragtig by jou indryf as jy eerlik daarmee omgaan. Jy dink nog jy kom met die waarheid na die Skrif dan staar die waarheid van die Skrif jou alreeds aan. Ek het dit al baie maal beleef wanneer ek met skynbaar geldige keuses na die Here se Woord kom. Ek het gesoek vir ‘n a) of b) tipe antwoord op my multikeuse vraag. En heel dikwels het ek die (wat my betref) van-die-kaart-af antwoord nes Josua gekry: Nee. Jy vra verkeerde vrae.

Laat die Skrif die Jerigo-mure in jou met die dinamiet van Evangeliestrukture in flarde skiet. Dis seer, maar helend. Kapituleer – dis jý wat verkeerd is. En trek dan jou skoene uit, die plek waarop jy staan is heilige grond...

Previous
Previous

Die Gevalle Vrou

Next
Next

Milton se Belydenis