Die Gelofte van 1838 (Deel 1): Historiese Oorsig

Met Geloftedag wat weer nader kom, wonder daar dalk baie van ons hoe ons hierdie jaar die dag gaan vier, terwyl ander dalk weer wonder of hulle selfs die dag móét vier – óf ten minste of hulle dit met ‘n goeie gewete kan vier. Dit is alles goeie oordenkings van ‘n iets wat maklik in ‘n blote tradisie kan ontaard, waarvan ‘n grondige kennis van die aard, inhoud, implikasies en toepaslikheid daarvan ontbreek. Dus het ek dit goedgedink om hierdie eienskappe van die Gelofte van 1838 vanuit ‘n historiese en teologiese oogpunt te gaan ondersoek.

In hierdie eerste artikel, sal ons na die aard van die Gelofte (soos dit bepaal was deur die voorafgaande omstandighede en aflegging daarvan), en die inhoud van die Gelofte (soos oorgelewer is deur ooggetuies) kyk. In die tweede artikel, hoop ek om die teologiese begronding vir die Gelofte te ondersoek, om uiteindelik te probeer oordeel of dit ‘n toepaslike daad was en of dit vandag steeds gebiedende eise op ons het.

Die donker jaar van 1838

In die poging om die aard van die Gelofte te begryp, sal dit ‘n onreg wees om nie die omstandighede wat tot die aflegging daarvan gelei het ten toon te stel nie. Hier sal dit voldoende wees om na die jaar 1838 te kyk, wat die donkerste jaar van die Groot Trek was.

Op 25 Januarie 1838 vertrek Piet Retief saam met 67 mans en vier jong seuns na uMgungundlovu, die hoofstat van die Zoeloe-ryk, om die finale onderhandelings met Dingaan oor die toesegging van woongebied vir die Trekkers in Natal af te handel. Retief was nege maande tevore as goewerneur van die Trekkers verkies, en met die tyd van sy vertrek was feitlik die hele trekgemeenskap langs die Tugelarivier, aan die noord-oostelike voet van die Drakensberge versamel.

Die algehele rampspoedigheid van die jaar het begin toe Retief en sy geselskap op 6 Februarie om die lewe gebring is, nadat die traktaat wat ‘n woongebied vir die Trekkers afgestaan het onderteken was. Daarna het Dingaan van sy krygers gestuur om die Trekkers aan die wal van die Tugela by Bloukrans uit te wis. Onbewus van die gebeure by uMgungundlovu, is die alte geruste Trekkers in die nag van 16 Februarie bekruip en verras. Alhoewel die doel van volslae vernietiging nie bereik was nie, was die verliese ontsettend groot. Daardie nag is 40 mans, 56 vroue, 185 kinders en 250 diensknegte vermoor. Duisende van die Trekkers se vee is ook weggevoer.

Om vêrdere aanvalle te voorkom is twee perdekommando’s onder leiding van Piet Uys en Hendrik Potgieter op 6 April gestuur om die dreigende Zoeloe-mag op te spoor en te verdryf. Hierdie eerste ontmoeting met die Zoeloe-leër by Italeni sou die reeds somber gemoedere van die Trekkers verder kwel en dié veldslag sou verreikende gevolge vir die hele Trek-beweging hê. Afgesien van Potgieter se beswaar, het Uys besluit om sy kommando in ‘n gebied erg ongeskik vir die kommando’s se perde te lei. Ongewillig het Potgieter vir Uys gevolg. Só het hulle hulself in ‘n hinderlaag bevind. Uys het die Zoeloe-krygers wat skielik verskyn het aangeval, maar Potgieter nie (om rede die laasgenoemde gemeen het dat dit eerder nodig was om die enigste beskikbare ontsnappingsroete te beveilig). Daar het Piet Uys en tien ander manne gesneuwel. Met die kommando se terugkeer het skok en ontsteltenis deur die laers getrek en Potgieter is openlik in die laers van Retief en Maritz van lafhartigheid en selfs verraad beskuldig. ‘n Paar dae later het Potgieter – wie nog altyd ‘n halfhartige belangstelling in Natal gehad het – en ongeveer 160 families terug oor die Drakensberge na die hoogland getrek. Dit het die mag en veiligheid van die oorblywende Trekgeselskap in Natal kwaai geknou. Dus teen Mei 1838, het die Trekkers in Natal al drie van hul vernaamste leiers verloor en van dié groot manne was net Gerrit Maritz en Karel Landman oor.

Die Trekkers se ellende het in die winter van 1838 ‘n hoogtepunt bereik. Hierdie winter was besonders koud en siektes in die laers was volop. Die haglike toestande saam met die aanhoudende vrees vir ‘n nuwe aanval het die Trekkers tot die uiterste beproef. Die gevreesde dag het toe op 15 Augustus gekom toe die voorste laer teen die Boesmansrivier aangeval is. Die geveg het drie dae lank geduur en die omstandighede het geëis dat selfs die vroue en ouer kinders in die bakleiery betrokke geraak het. Alhoewel die aanvallers uiteindelik verdryf is, is feitlik al die laer se vee weggevoer. En net toe hulle dink hul toestand kan nie verder versleg nie, is Gerrit Maritz op 23 September – slegs 41 jaar oud – op die siekbed oorlede. Dus teen die einde van 1838 was die toestand van die Natalse trekkers betreurenswaardig. Hulle was arm, vreesbevange en leierloos. Die uittog na Natal, en dus die grootste gedeelte van die Groot Trek, het op die kruin van ‘n totale mislukking gestaan.

Die voortbestaan van die trek het nou hoofsaaklik op die skouers van Andries Pretorius gelê, wie op 22 November by die trekgeselskap in Natal aangesluit het. Die Trekkers het al reeds in April daardie jaar sy hulp ingeroep. Pretorius was nie onbekend onder die Trekkers nie. Hy het hom reeds as bekwame binnelandse verkenner en militêre aanvoerder bewys, en hy was van plan om mettertyd hom en sy gesin by die Trekkers te voeg. Hy is as Kommandant-generaal verkies en ‘n paar dae ná sy aankoms het hy met ongeveer 470 weerbare mans, bestaande uit ‘n wa-kommando en ruiters, na uMgungundlovu vertrek op hulle veldtog teen Dingaan.

Die aflegging van die Gelofte

Die suksesvolle verloop van Pretorius se veldtog teen Dingaan was die laaste kans op oorlewing en voortbestaan vir die Trekkers in Natal. Skietgoed en lewensmiddele was beperk, aangesien die Britse Owerheid in die Kaapkolonie reeds op 6 September 1838 ‘n verbod op die uitvoer van ammunisie na die Trekkers ingestel het en Port Natal (vandag Durban) se hawe is vanaf 3 Desember deur Britse troepe geblokkeer. Só is die Trekkers van die res van die wêreld en enige ondersteuning afgesny. Boonop hierdie ontberings, sou die gebeure by Bloukrans die lede van Pretorius kommando sekerlik oortuig het wat met hul geliefdes sou gebeur indien hul nie slaag nie. Dit is dus nie vreemd dat die kommando dit goedgedink het om die Here se hulp op ‘n besondere wyse te vra nie.

Baie historici meen dat die idee van die Gelofte by Pretorius ontstaan het, terwyl ander meen dat beide Pretorius en Sarel Cilliers gesamentlik dit laat realiseer het. Hoe dit ook al sy, beide was skerp, vrome en diep gelowige manne wie in staat sou wees om die toepaslikheid van ‘n gelofte te oordeel. Die Gelofte was waarskynlik die eerste keer op Sondag 9 Desember afgelê. Dit is toe elke aand daarna tot die dag van die Slag van Bloedrivier tydens die aandgodsdiens herhaal.

Tesame met die uiterse nood waarin die Trekkers was, moet ‘n paar belangrike besonderhede uitgelig word om die konteks waarin die Gelofte afgelê was en die aard van die Gelofte beter te verstaan. Eerstens, Pretorius se kommando was nie op ‘n bloeddorstige oorlogspad om wraak teen die Zoeloe-volk as ‘n geheel te neem nie. Hul veldtog was eerder slegs gerig teen Dingaan met die doel om vreedsame voortbestaan in die gebied te verseker (geen Zoeloe-nedersettings oppad na uMgungundlovu was deur die kommando aangeval of enigsins versteur nie). Tweedens, oorlog met Dingaan was nie vir Pretorius die enigste oplossing nie. Die dagboek van Jan Bantjes - Pretorius se sekretaris - getuig hoe Pretorius tot pas voor 16 Desember ‘n boodskap aan Dingaan gestuur het dat die kommando tot vredesonderhandelings bereid was. Dit bewys dat die Gelofte nie met ‘n houding van onderdrukking of verowering afgelê was nie. Derdens, die Gelofte was afgelê nog voordat die kommando in onmiddellike gevaar was en toe die botsing met die Zoeloe-leër nog nie seker was nie. Dus was die Gelofte nie ‘n spontane, onwillekeurige en desperate noodkreet nie, maar ‘n wilsbesluit wat eers deeglik oordink was.

Nadat die besonderhede en eise van die voorgestelde Gelofte aanvanklik op 9 Desember aan die lede van die kommando verduidelik was, het ons ‘n redelike mate van sekerheid oor hoe die verrigtinge tydens die aflegging van die Gelofte verloop het. Gelei deur Cilliers, is die hele kommando byeen geroep en ‘n paar verse van Psalm 38 is gesing. Daarna het Cilliers gebid en die eerste 24 verse van Rigters 6 gelees. Voordat die Gelofte afgelê is, moes alle bereidwilliges dit só verklaar en dié wat nie bereidwillig was nie was verskoon (met elke nuwe aflegging is dié wat hulself nog daarvan weerhou het genooi om dit af te lê). Die Gelofte is dan deur Cilliers in die vorm van ‘n gebed namens die kommando afgelê en hulle het met ‘n gesamentlike “amen” hul instemming hiermee betoon. Ten slotte is nog verse van Psalm 38 gesing, asook Psalm 134.

Die inhoud van die Gelofte

Deeglike kennis van die inhoud van die Gelofte is nodig om die betekenis, eise en implikasies daarvan te verstaan. Dit is belangrik om te besef dat die presiese, oorspronklike bewoording van die Gelofte nêrens op skrif aangeteken was nie, óf dat enige aantekening daarvan nie bewaar gebly het nie. Die eersgenoemde is die waarskynlikste. Die historiese getuienis dui daarop dat die Gelofte in die vorm van ‘n gebed afgelê was en gebede word uit eerbied baie selde neergeskryf.

Ons kennis van die inhoud van die Gelofte is oorgelewer in drie primêre bronne wat deur ooggetuies neergeskrywe was. Vandag is die meeste mense egter nie bekend met die ooggetuies se oorlewerings nie. Die weergawe van die Gelofte wat die bekendste is en wat algemeen by feeste en herdenkingsdienste gebruik word is G.B.A. Gerdener se poging van 1919 om die oorspronklike bewoording van die Gelofte uit die primêre bronne te rekonstrueer. Hierdie rekonstruksie is in 1962 deur W.E.G. Louw in Afrikaans vertaal en lui soos volg:

“Hier staan ons voor die Heilige God van hemel en aarde om ‘n gelofte aan Hom te doen, dat, as Hy ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee, ons die dag en datum elke jaar as ‘n dankdag soos ‘n Sabbat sal deurbring; en dat ons ‘n huis tot Sy eer sal oprig waar dit Hom behaag, en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte. Want die eer van Sy naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van oorwinning aan Hom te gee.”

Die oudste van die primêre bronne is dié van Jan Bantjes wat in sy dagboek verskyn. Dit is moontlik op, of net ná die eerste aflegging van die Gelofte op 9 Desember 1838 aangeteken. Die aangehaalde tekste hieronder is vir die leser se gerieflikheid in Afrikaans vertaal. Bantjes het geskryf:

“Op Sondagoggend, voordat die erediens begin het, het die Hoof-Kommandant diegene wat die erediens sou lei bymekaar laat kom en hulle versoek om vir die gemeente te sê, dat hulle ywerig in gees en in waarheid tot God moet bid om Sy hulp en bystand in die stryd teen die vyand. Hy het verklaar dat hy aan die Almagtige ‘n gelofte wil doen (indien almal bereid is) – ‘dat as die Here ons die oorwinning gee, ‘n Huis tot Sy Grote Naam se gedagtenis opgerig sal word, waar dit hom behaag.’ – en dat hulle God moet smeek vir Sy hulp en bystand om hierdie gelofte sekerlik te kan volbring, en dat ons die dag van die oorwinning in ‘n boek sal aanteken, om dit bekend te maak, selfs aan ons verste nageslagte, sodat dit tot die eer van God gevier kan word.”

Die tweede getuienis van die inhoud van die Gelofte verskyn in ‘n brief van Andries Pretorius (die Hoof-Kommandant in Bantjes se getuienis hierbo) wat hy op 23 Desember 1838 aan die Volksraad geskryf het. Dit lui:

“Verder wens ek om u ook in kennis te stel dat ons hier onder mekaar besluit het om die dag van ons oorwinning, dit is Sondag, die 16de van hierdie maand Desember, onder ons ganse geslag bekend te maak en dat ons dit aan die Here wil toewy en vier met danksegging, soos ons, voordat ons teen die vyand geveg het, in openbare gebed beloof het. So ook, dat as ons die oorwinning mag verkry, ons aan die Here tot sy Naam se gedagtenis ’n huis sal oprig waar Hy ons sal aanwys. Hierdie is die gelofte wat ons nou hoop om te betaal met die hulp van die Here, aangesien Hy ons geseën het en ons gebede verhoor het.”

Die derde getuienis kom van Sarel Cilliers, wat dit ongeveer 32 jaar ná die Slag van Bloedrivier neergeskryf het. Sy weergawe van die Gelofte is langer en uitvoeriger as dié van Bantjes en Pretorius, en die bewoording weerspieël ook nie die aard van ‘n gebed nie. Aangesien Cilliers in sy briewe bevestig dat die Gelofte in ‘n gebed afgelê was, is dit waarskynlik dat sy aangetekende weergawe van die Gelofte betrekking het met die verduideliking wat hy vir die kommando lede gegee het vóór die aflegging daarvan in gebed. Sy weergawe lui soos volg:

“My broeders en medelandgenote, hier staan ons tans, op hierdie oomblik voor ‘n Heilige God van hemel en aarde om ‘n belofte aan Hom te belowe, dat as Hy met sy beskerming met ons sal wees en ons vyand in ons hand sal gee, ons daardie dag en datum elke jaar as ‘n verjaardag en ‘n dankdag soos ‘n Sabbat tot Sy eer sal deurbring, en dat ons dit ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot gedagtenis, ook vir ons opkomende geslagte. En as daar iemand onder ons is wat daarteen beswaar het, moet hy van hierdie plek weggaan, want die eer van Sy naam sal verheerlik word, die roem en eer van die oorwinning sal aan Hom gegee word.”

Die bogenoemde weergawes en getuienisse van die Gelofte stem grootliks ooreen, en slegs enkele wesenlike verskille kan gevind word, die belangrikste hiervan is dat die oprig van ‘n huis vir die Here in Cilliers se weergawe ontbreek (hy mag dit moontlik uitgelaat het omdat die Geloftekerk reeds teen die tyd van hierdie optekening in Pietermaritzburg gebou was). Wat veral belangrik vir ons en ons gewetens is, is dat die drie primêre getuienisse ooreenstem oor die eise en implikasies van die Gelofte. Dit is dat: (1) die eer en rede vir die oorwinning alleen God toekom, (2) die dag herdenk en gevier moet word om God te dank en te eer, en (3) die nageslagte van die volk ook verbind is tot die Gelofte en die eise daarvan.

Gevolgtrekking

Met die oog op die aard, inhoud, implikasies en toepaslikheid van die Gelofte, kan daar die volgende gevolgtrekkings uit die bostaande gemaak word:

  • Weens die uiters beproewende omstandighede en nood van die Trekkers in die jaar 1838, is dit glad nie vreemd of verbasend dat hul dit goedgedink het om die Here se hulp op ‘n besondere wyse te vra nie.

  • Die Gelofte moet nie as ‘n impulsiewe, onverantwoordelike noodkreet nie beskou word nie, maar eerder as ‘n gewigtige wilsbesluit wat oordink was.

  • Die Gelofte was eerbiedig in gebed afgelê en die erns van die saak is verder deur die feit dat dit altyd met die daaglikse aandgodsdiens gepaard gegaan het bewys.

  • Weens die gewigtigheid van die Gelofte, was niemand geforseer om dit af te lê nie. Daar is bewyse dat sekere mans, wie uit vrees dat hul nageslagte nie getrou aan die Gelofte sou wees nie, geweier het om dit af te lê. (Dit is interessant dat dit hieruit duidelik blyk dat hulle God meer as die vyand gevrees het.)

  • Die wenslike ooreenstemming van die inhoud van die primêre bronne, veral oor die kernsake, gee vir ons vandag sekerheid oor die eise en implikasies van die Gelofte.

  • Dat die volk se nageslagte tot die Gelofte verbind is, is ongetwyfeld. Latere getuienisse bevestig die oortuiging dat die volk se nageslagte aan die Gelofte verbind is, soos die besluit van die Volksraad in 1865 dat die verpligting om die Gelofte na te kom, vir die hele Voortrekkergemeenskap geld en nie net die fisiese nageslag van die kommando van Bloerivier of slegs die Natalse Trekkers nie. Of die verbinding van die nageslagte geldig is, sal ons in die volgende artikel ondersoek.

Previous
Previous

Die Gelofte van 1838 (Deel 2): Teologiese Oorsig