Die Gelofte van 1838 (Deel 2): Teologiese Oorsig
Kennis van die teologiese begronding van die Gelofte van 1838 is natuurlik vir ons belangrik om die implikasies en toepaslikheid daarvan te kan oordeel. Met die oog op hierdie doel, sal ons in hierdie artikel na die teologiese invloede op die Voortrekkers kyk en die Skrif se getuienis oor geloftes ondersoek. Dan sal die teer saak van die betrekking van die nageslagte kortliks bespreek word.
Die invloed van à Brakel en die Nadere Reformasie
Soos ons in die vorige artikel gesien het, het die idee van die Gelofte óf by Andries Pretorius óf by beide Pretorius en Sarel Cilliers ontstaan. Die hoofbron van hul begrip van die aard van ‘n gelofte blyk hoofsaaklik die vername Nadere Reformasie teoloog, prediker en skrywer Wilhelmus à Brakel te gewees het. Die Nadere Reformasie was ‘n beweging in die Nederlande wat van ongeveer 1600 tot 1750 geduur het, wat gekenmerk was om die beginsels van die Gereformeerde leer prakties toe te pas op die daaglikse lewe van die indiwidu, gesin, kerk en samelewing (klink nogal soos iets wat ons vandag nodig het...).
À Brakel se grootse en befaamdste prestasie, De Redelijke Godsdienst, is ‘n uitvoerige, veel-volume werk wat die Gereformeerde leerstellings asook die praktiese toepassings daarvan, uitlê. Hierdie werk was algemeen bekend onder die Voortrekkers en dit het hoë aansien geniet. Op die trekpad was dit gereeld geraadpleeg om godsdienstige meningsverskille op te los en om die gesonde Gereformeerde leer te onderhou. Alhoewel ander figure van die Nadere Reformasie ook onder die Trekkers bekend was, was à Brakel heel waarskynlik die belangrikste. Dit is dus nie onredelik om te veronderstel dat à Brakel ‘n besonderse invloed op die godsdiens en teologie van die Voortrekkers gehad het nie.
Dat Pretorius en Cilliers hierdie werk van à Brakel met die oog op die Gelofte geraadpleeg het, blyk baie waarskynlik te wees. Cilliers het byvoorbeeld dieselfde aanhalings wat in à Brakel se werk genoem is weergegee om die nakoming van die belofte te verdedig (Ps. 76:12, Pred. 5:4). Maar die opvallendste bewys is dat die Gelofte van 1838 aan al die vereistes en kenmerke wat à Brakel vir ‘n gelofte gee voldoen. Alhoewel Pretorius en Cilliers hul waarskynlik ook op ander skrywers van die Nadere Reformasie beroep het, was à Brakel moontlik die vernaamste en dus sal hy ons kan help om Pretorius en Cilliers se oortuigings van en bedoelings met die Gelofte te verstaan.
‘n Gelofte volgens à Brakel
In De Redelijke Godsdienst skryf à Brakel, “’n Gelofte is ‘n verbintenis aan God wat vrywillig gemaak word met die doel om óf ‘n goeie daad te verrig óf om van iets af te sien (wat binne die vermoë van die mens is), as ‘n uitdrukking van dankbaarheid of om ons geestelike welstand te bevorder.” Hy brei sy definisie verder uit en stel die volgende vereistes vir ‘n “ware” gelofte:
Dit is ‘n verbintenis aan God – die gelofte stel behorenseise teenoor God op, dus moet die beloofde dade alleen God toekom.
Dit is beperk tot goeie sake – die saak waaroor die gelofte handel en beloftes wat gemaak word, moet nie in teenstelling met God se wet wees nie.
Dit moet handel oor ‘n saak wat binne die mens se vermoë is – onredelike versoeke en beloftes moet nie gemaak word nie, die aflêers moet in hul menslikheid instaat wees om dit na te kom.
Dit moet vir ‘n spesifieke saak met spesifieke beloftes gemaak word – die gelofte moet spesifiek in sy omvang wees en nie bloot algemene beloftes stel nie.
Daar moet nie met God handelgedryf word nie – die gelofte moet nie soos ‘n handelsooreenkoms gemaak word nie (bv. “ons sal U hierdie gee, as U ons dit gee”). Nee, die beloftes moet as uitdrukkings van dankbaarheid gesien word.
Dit moet versigtig gemaak word – aangesien dit nagekom moet word en teenoor God belowe was, moet dit nie roekeloos afgelê word nie.
Dit is duidelik dat die Gelofte van 1838 (soos uiteengesit in die vorige artikel) aan die bogenoemde vereistes voldoen om volgens à Brakel as ‘n ware gelofte gereken te word. Hieruit kan ons dus sien wat in alle waarskynlikheid Pretorius en Cilliers (en die kommandolede in die algemeen) se oortuigings van en bedoelings met die Gelofte moes gewees het. Wat veral belangrik is om uit te lig – ‘n bekommernis wat vele mense kwel – is dat die Gelofte nie ‘n poging was om God te probeer paai of oortuig het om vir hulle die oorwinning te gee nie. Inteendeel, die beloftes dien as offerandes wat “met danksegging” gevier moet word, soos Pretorius dit gestel het.
Bybelse voorbeelde van geloftes
Vanuit die bogenoemde is dit duidelik dat die aflegging van geloftes binne die grense van Gereformeerde ortodoksie is en ook nie eienaardige verskynsels is nie. Maar soos goeie Protestante, moet die Woord van God ons hoogste en finale gesag rakende die geskiktheid van ons leer en lewe wees. Daarom sal ons nou na voorbeelde van geloftes wat in die Bybel voorkom kyk, om die Gelofte van 1838 daarmee te vergelyk.
Die geloftes wat die volk Israel gemaak het stem mooi ooreen met à Brakel se beskrywing van ‘n ware gelofte (dit is asof à Brakel ‘n uitgeslape teoloog was!). Vir bondigheidsonthalwe, sal slegs die kerngedeeltes hier gegee word. Alhoewel hierdie geloftes gaan oor die volk wat hulself tot hernude gehoorsaamheid aan God toewy en nie soseer ‘n versoek om hulp nie, deel hulle nie net met die Gelofte van 1838 die eienskappe wat à Brakel noem nie, maar ook dat hierdie geloftes onder leiding van volkshoofde in tye van nasionale krisis, namens die volk ingestel was:
“En op dié dag het Josua met die volk 'n verbond gesluit en vir hulle 'n insetting en 'n reg vasgestel in Sigem. En Josua het hierdie woorde in die wetboek van God geskrywe en 'n groot klip geneem en dié daar opgerig onder die eikeboom wat by die heilige plek van die Here is. Toe sê Josua aan die hele volk: Kyk, hierdie klip sal 'n getuie teen ons wees, want hy het al die woorde van die Here gehoor wat Hy met ons gespreek het; en hy sal 'n getuie teen julle wees, sodat julle jul God nie verloën nie.” (Jos. 24:25-27)
Gelei deur Asa. “En hulle het die verbond aangegaan om die Here, die God van hulle vaders, met hul hele hart en met hul hele siel te soek.” (2 Kron. 15:12)
Gelei deur Hiskía. “Nou is dit in my hart om 'n verbond te sluit met die Here, die God van Israel, dat sy toorngloed van ons afgewend kan word...om Hom te dien en sy dienaars te wees en offerrook te laat opgaan” (2 Kron. 29:10-11)
“En Jójada het die verbond gesluit tussen die Here en die koning en die volk, dat hulle 'n volk van die Here sou wees...” (2 Kon. 11:17)
Gelei deur Josía. “En die koning het op die verhoog gaan staan en die verbond voor die aangesig van die Here gesluit om die Here te volg en sy gebooie en sy getuienisse en sy insettinge met die hele hart en met die hele siel te onderhou, om die woorde van hierdie verbond wat in hierdie boek geskrywe is, te bevestig. En die hele volk het toegetree tot die verbond.” (2 Kon. 23:3)
Gelei deur Nehemia. “MAAR op grond van dit alles sluit ons 'n vaste verbond en beskryf dit; en op die verseëlde stuk het ons owerstes, ons Leviete, ons priesters geteken.” “...en hulle het onder eed en met beswering hulleself verplig om te wandel in die wet van God, wat deur die diens van Moses, die kneg van God, gegee is, en om te hou en te doen al die gebooie van die Here onse Here, en sy verordeninge en sy insettinge” (Neh. 9:32 en 10:29)
‘n Gelofte wat meer soos die 1838 Gelofte klink, is dié van Jakob in Génesis 28. Dit is nadat God hom in ‘n droom by Bet-el besoek het. Hy het dit uit agting vir God afgelê nadat Hy hom grond, ‘n nageslag en bewaring belowe het. Hier het Jakob, net soos die kommando van Voortrekkers, sy trou aan God belowe indien Hy hom sou bewaar:
“En Jakob het 'n gelofte gedoen en gesê: As God met my sal wees om my te bewaar op hierdie weg wat ek gaan, en aan my brood sal gee om te eet en klere om aan te trek, en ek behoue na die huis van my vader sal terugkom, dan sal die Here my God wees. En hierdie klip wat ek as gedenksteen opgerig het, sal 'n huis van God wees, en van alles wat U my gee, sal ek aan U sekerlik die tiendes afstaan.” (Gen. 28:20-22)
Nog ‘n gelofte wat genoem kan word is dié van Jefta:
“En Jefta het aan die Here 'n gelofte gedoen en gesê: As U werklik die kinders van Ammon in my hand gee, dan sal wat uitkom, wat uit die deure van my huis uitkom my tegemoet, as ek in vrede terugkom van die kinders van Ammon, aan die Here behoort, en ek sal dit as 'n brandoffer bring.”
Hierdie gelofte stem ooreen met dié van die Voortrekkers dat dit gaan oor die oorwinning van ‘n vyand. Maar dit staan in skerp teenstelling met dié van die Voortrekkers en dié van die volk Israel hierbo genoem, en dit is dat Jefta se belofte nie spesifiek was nie en dus roekeloos was. À Brakel bestempel Jefta se gelofte as ongeldig en sondig, juis omdat sy roekeloosheid hom tot ‘n moontlike sondedaad gedryf het (sy dogter was die eerste wat uit sy huis gekom het). Jefta se dwaasheid is vir ons ‘n waarskuwing om nie onverskillige geloftes te maak nie.
As die Gelofte van 1838 met die geloftes in die Bybel vergelyk word, blyk daar wesenlike ooreenkomste in hul struktuur, aflegging, konteks van aflegging en omvang te wees. Aangesien ons geen rede vanuit die Skrif het om te dink dat die Bybelse geloftes (uitsluitend Jefta s’n) onbehaaglik vir God was nie, moet dieselfde oortuiging ook aan die Gelofte van 1838 geskenk word.
Betrekking van die nageslagte
Die betrekking van die nageslagte tot die Gelofte en sy eise is beslis die aanvegbaarste aspek daarvan. Die konflik gaan hoofsaaklik oor die geldigheid en regverdigheid van die nageslagte se betrekking; asook die vraag wie werklik verbind is tot die gelofte en of die nakoming van die Gelofte verpligtend is of nie. In die onderstaande sal ek poog om klaarheid oor hierdie teer sake te gee, of ten minste vir die leser oorwegings gee om oor na te gaan dink.
Ons dra algemeen die gevolge van ander
Dit is voordiehandliggend en algemeen dat die dade van ander, veral dié van ons voorgeslagte, soms groot en beslissende gevolge vir ons het – al het ons geen sê daarin gehad nie – en dat die lewe so werk, word instinktief deur die mens aanvaar. Ons mag dalk beswaar hê oor die aard van die gevolge (omdat dit ongerieflik is), maar dat die gevolge noodwendig na ons toe moes gekom het weens die gebeurtenis, word aanvaar. Dink maar aan die volgende voorbeelde: jou inkoms tot die wêreld; waar jou ouers besluit om te woon en jou groot te maak; die deel van skuld onder besigheidsvernote, al het een van die ander die skuld gemaak; as ‘n ander voertuig voor jou inry en ‘n ongeluk veroorsaak ens.
Dat ander ons lot sonder ons instemming bepaal, is ook duidelik in die Woord van God geopenbaar: “...soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood...” (Rom. 5:12); “...want Ek, die Here jou God, is 'n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat” (Exo. 20:5); “want ons vaders het ontrou gehandel en gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here onse God...En kyk, hierom het ons vaders deur die swaard geval en is ons seuns en ons dogters en ons vroue in gevangenskap.” (2 Kron. 29:6-9)
Dus dwing die volgende vraag homself op ons af: Aangesien dit die aard van ons menslike bestaan is dat ons noodwendig die gevolge van ander se besluite en dade moet dra, en dat ons hierdie feit daagliks aanvaar; watter gronde het ons dan om die gevolge van die Gelofte te verwerp en só die geldigheid en regverdigheid van ons betrekking tot dit te betwyfel? Myns insiens, is daar geen gronde nie. Daarom moet die betrokke nageslagte hulself gewillig onderwerp aan die gevolge van die Gelofte, soos hulle daagliks – sonder om te skroom – met ander gebeure doen.
Hierdie aanvaarding van ons betrekking tot die Gelofte is glad nie veronderstel om enigsins ’n struikelblok vir die Gereformeerdes onder ons te wees nie, aangesien die verbinding van nageslagte geen vreemde konsep in ons Verbondsteologie is nie. Dit is juis hierdie einste Verbondsteologie van die Voortrekkers wat die betrekking van die nageslagte teweeggebring het.
Wie is vandag verbind tot die Gelofte en word hulle daartoe verplig?
Die betrokke nageslagte bestaan uit ‘n besonderse groep mense met twee kenmerkende eienskappe: Christen Afrikaners
Net soos baie van die Bybelse geloftes, was die hele volk betrek tot die 1838 Gelofte en die nakoming van die eise. Dit is bewys deur Andries Pretorius se woorde, “om die dag van ons oorwinning...onder ons ganse geslag bekend te maak en dat ons dit aan die Here wil toewy en vier met danksegging”. Die Volksraad se uitspraak in 1865 bevestig Pretorius se bedoeling. Dus, volgens die stigter en oorspronklike aflêers van die Gelofte, is alle etniese Afrikaners en elkeen wat hulself met die Afrikaner vereenselwig, verbind tot die Gelofte van 1838. Ek reken die nie-etniese Afrikaner is ‘n ware Afrikaner, net soos die nie-etniese Israeliete as ware Israeliete gereken was nadat hulle hul by die volk aangesluit het (vlg. Jos. 14 oor Kaleb). Die nie-etniese Afrikaner leser moet maar self oordeel of hulle hulself met die Afrikaner vereenselwig of nie.
Aangesien Afrikaners tot die Gelofte verbind is en die Gelofte teenoor die ware Drie-Enige God gemaak is, dink ek is dit vanselfsprekend dat Christen Afrikaners getrou aan die Gelofte moet wees. Daarby gesê, ek dink slegs Christene is genoop om getrou aan die Gelofte te wees, omdat slegs verbondsvolke (of verbondskinders) die Genadetroon deur Jesus Christus kan nader en so geloftes aan God kan maak, en met opregtheid kan betaal.
As dit aanvaar word dat Christen Afrikaners tot die Gelofte verbind is, dan is hulle geroep om aan die eise getrou te wees, en is daarom – voor God – daartoe verplig (Ps. 76:12, Pred. 5:4). Want wat is verpligting dan anders, as dit nie is om beloftes wat aan God gemaak is na te kom nie?
Gevolgtrekking
Die bostaande poog om te wys dat die Gelofte van 1838 in wese ooreenstem met die kenmerke van aanvaarbare Bybelse geloftes en dat die aflêers nie God tot hul redding probeer paai het nie. Daarom kan die Gelofte as welbehaaglik vir God beskou word. Verder word daar gemeen dat Christen Afrikaners (etnies en nie-etnies) verbind en verplig is tot die Gelofte, en dat hulle met ‘n goeie gewete dit só kan aanvaar.
Indien die leser oortuig is van wat hier gesê word, dan weet hy/sy wat hul op die 16de Desember moet doen. Indien die leser nie heeltemal oortuig is nie, vra ek hom/haar om die volgende te oorweeg: Waarom nie tot die eer van God ‘n dag afsonder nie? Waarom nie op hierdie besonderse geskiedkundige dag die woorde van Jesaja laat weerklink nie?
Kyk, God is my verlossing; ek vertrou en is nie ontsteld nie. Ja, die Here, die Here is my toevlug en my sterkte; Hy het my tot hulp gekom. Julle sal met vreugde water skep uit die fonteine van verlossing. Julle sal op daardie dag sê, ‘Prys die Here! Roep sy Naam uit! Maak onder die volke sy dade bekend! Verkondig dat sy Naam verhewe is! Besing die Here, want verhewe dinge het Hy gedoen; dit moet bekend word oor die hele aarde.’ (Jes. 12:2-5)